Solidariteit Vakbond - Hoofkantoor (Centurion)

South Africa / Gauteng / Verwoerdburg / Centurion
 Upload a photo

Solidariteit is een van Suid-Afrika se oudste vakbonde. Die vakbond het sy ontstaan in 1902 in die myne aan die Witwatersrand gehad. Solidariteit – en natuurlik sy voorganger, die Mynwerkersunie – is sedertdien ten nouste by die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis betrokke. In die 1990’s het talle ander vakbonde, waaronder die Suid-Afrikaanse Werkersunie, deel van die Mynwerkersunie geword. Die vakbond se naam is toe eers na MWU-Solidariteit en later na Solidariteit verander.

Sedert 1997, toe Solidariteit se huidige uitvoerende hoof, Flip Buys in sy pos aangestel is, het die vakbond se ledetal van sowat 30 000 tot 130 000 toegeneem. Daar sluit elke maand minstens 1 000 tot 2 000 mense by Solidariteit aan. Die vakbond het meer as 20 kantore landwyd en lede word deur meer as 200 personeellede en sowat 2 000 vakbondverteenwoordigers in duisende maatskappye bedien.

Solidariteit is sedert 2006 ʼn lid van die Confederation of South African Workers’ Unions, oftewel Consawu. Dié lidmaatskap stel die vakbond in staat om op nasionale en internasionale vlak aan die arbeidsdebat deel te neem.

Solidariteit het tans lede in byna elke bedryf en maatskappy in Suid-Afrika. Die vernaamste bedrywe waarin Solidariteit kollektief georganiseerd is, is metaal- en ingenieurswese, mynbou, die elektriese bedryf, die telekommunikasiebedryf, die chemiese bedryf, landbou en algemene bedrywe, wat onder andere tersiêre instellings, die lugvaart en ander spesialisvelde insluit.

Solidariteit is bekend as ’n vakbond wat sterk op dienslewering toegespits is en hy het gevolglik die grootste regsafdeling (meer as dertig personeellede, met inbegrip van prokureurs en advokate), die enigste telefoniese vakbond-kliëntedienssentrum, die beste administratiewe stelsels, die beste kommunikasiestelsels en ook die beste ledevoordele.

Solidariteit is ook bekend daarvoor dat hy ’n vakbond is wat vir die gemeenskap omgee. Die Solidariteit Helpende Hand Fonds is by talle maatskaplike projekte betrokke, terwyl die vakbond jaarliks studiebeurse ter waarde van meer as R1 miljoen aan voornemende studente toeken. Die vakbond bied ook opleiding aan honderde jongmense deur sy opleidingsinisiatief, Sol-Tech, terwyl die vakbond se burgerregte-inisiatief, AfriForum, maatskaplike- en gemeenskapskwessies aanpak. Solidariteit het ook ’n maatskappy wat korttermynversekering en persoonlike lenings aan lede bied, terwyl Fin-Q, die vakbond se finansiële dienstemaatskappy, lede met hulle finansiële beplanning bystaan. Fin-Q bied ook ʼn aftreeplan – tans die goedkoopste aftreeproduk in Suid-Afrika - aan lede. Solidariteit Gesondheidsorg help lede om ʼn ingeligte keuse ten opsigte van mediese fonds-lidmaatskap te maak en Express Personnel help werklose lede om weer die arbeidsmark te betree.

Die Kom Huis Toe-veldtog help Suid-Afrikaners wat in die buiteland bly om na Suid-Afrika terug te keer en Solidariteit Jeug beywer hom vir kwessies wat jongmense raak.

Solidariteit se leuse is “Ons beskerm ons mense” en dit is wat die vakbond elke dag probeer doen. As jy nog nie by Solidariteit aangesluit het nie, is dit nou ’n goeie geleentheid om dit sommer deur die webblad te doen. Klik hier en word vandag nog deel van die Solidariteit-beweging.
Nearby cities:
Koördinate:   25°48'43"S   28°12'7"E

Comments

  • (Vavi on SA: ‘A kleptocracy led by thieves’ – corruption cost R700b in 20yrs.) Gaan Solidaritiet hulle ondersteun die 30/9/2015? Ek verwys na die berug in die FIN24
This article was last modified 18 years ago