Soria

Spain / Soria /
 town (en)  Add category

Soria is die hoofstad van die gelyknamige, yl bevolkte Spaanse provinsie in die ooste van die Outonome Gemeenskap van Kastilië en León. Soria is met 'n bevolking van 37 200 mense (2005) die tweede kleinste provinsiale hoofstad in Spanje ná Teruel. Sowat veertig persent van die totale bevolking van die provinsie is in Soria gekonsentreer.

Soria, wat aan die boloop van die Duero-rivier geleë is, pronk met 'n ryk erfenis van Romaanse bouwerke, waaronder veral stadsmure en kerkgeboue. Die konkatedraal San Pedro, wat in die 16de eeu in die platereske styl omgebou is, behoort met sy klooster en kruisgang saam met die kloosterkerk Santo Domingo en die bouvalle van die kerk en kruisgang van die klooster San Juan de Duero tot die belangrikste argitektoniese besienswaardighede in Soria.

San Pedro dien sedert die jaar 1959 as die tweede biskopskerk van die bisdom Osma-Soria, naas die katedraal in El Burgo de Osma sowat 60 kilometer van Soria af. Twee 18de eeuse bedevaartskerke in die Barokstyl, die Ermita de la Virgen del Mirón en die Ermita de San Saturio, wat aan Soria se beskermheilige gewy is, kan aan die stadsrand besigtig word.

Die bouvalle van Numantia is agt kilometer noord van Soria naby Garray geleë. Hierdie Keltiberiese oppidum dateer oorspronklik uit die Bronstydperk en is in 133 v.C. ná 'n reeks aanvalle en 'n lang beleg deur Romeinse troepe onder die bevel van die Jongere Scipio Aemilianus ingeneem en verniel. Die bouvalle staan oop vir die publiek, terwyl die argeologiese vondse uit die gebied in die Museo Nmantino in Soria besigtig kan word.

Volgens 'n hofbesluit van die Soriaanse statevergadering, die Cortes, uit die jaar 1380 is die Joodse bevolking hul reg ontneem om hul eie strafsake te bereg. Daarnaas is 'n dekreet van wyle koning Hendrik II van Kastilië († 1379) bevestig waarvolgens Jode van loopbane in die koninklike administrasie en adellike huise uitgesluit was. Hierdie besluite het die grondslag vir die haatpreke van die aartsdiaken Ferran Martinez gevorm wat in 1391 tot bloedige anti-Joodse pogroms gelei het.
Koördinate:   41°46'9"N   2°29'0"W
Array